Glorielose 100 dae vir Franse president

Hy is die jongste president wat Frankryk se Vyfde Republiek ooit gehad het, en was aanvanklik heel gewild onder die Franse kiesers, maar nou het die skaal se anderkant swaarder geword.

Emmanuel Macron het na die eerste dae van wittebrood as jongste president van Frankryk, gesien hoe die kiesers in groot getalle hom die rug draai en beskuldig dat hy ’n Marxistiese regeringstelsel wil toepas.

Sy vrou se aandrang om erken te word as die presidentsvrou het kiesers woedend gelaat omdat dit nie in Frankryk toegelaat word nie.

Volgens die jongste opname deur ’n onafhanklike instansie, is slegs 36% van die Franse kiesers na die eerste 100 dae nog tevrede met president Macron.

Dit staan in skrille kontras met ’n opname wat met ’n vorige president, Nicolas Sarkozy die geval was, want die man het na 100 dae  die steun van byna 70% gehad.

Dit behoort vir Macron reeds duidelik te wees dat die Franse nie tevrede is met sy vreemde styl nie, en gedurende die afgelope paar weke het sy aansien skerp gedaal, en het verskeie regeringslui van ander lande hulle misnoeë te kenne gegee met die Fransman.

Italië se eerste minister het waarskynlik die skerpste gereageer na die dispuut ontstaan het oor die aankoop van ’n Franse maatskappy wat plesierbote vervaardig en toe deur Macron gekanselleer is.

Die Franse is ook ontevrede met die president se persoonlikheid wat nou na vore kom, en kry hy hewige kritiek van gesoute politici in Frankryk, veral toe hy skeef opgetree het teen die uiters bekwame Pierre de Villiers van die Franse weermag.

Sy sogenaamde hervormingsplanne word skerp veroordeel omdat dit nie in lyn is met wat hy tydens die verkiesingsveldtog onderneem het nie, en kom sy sosialistiese beginsels na vore wat hy by sy voorganger, Francois Hollandè geleer het.

Sy ekonomiese hervorming het pynlike veranderings teweeggebring wat vervaardigers en nyweraars kniehalter, en waarskynlik sal lei tot werksverliese wat Frankryk nie nou kan bekostig nie.

Macron kon ook nie daarin slaag om die Britse eerste minister, of die Amerikaanse president se guns te wen nie, en moet klaarblyklik tevrede wees met slegs die lojaliteit van kanselier Angela Merkel.

Foto – President Emmanuel Macron