Genetika: Nuwe bloedtoets ontwikkel

Navorsers in Nederland verbonde aan die Universiteit van Utrecht het ’n nuwe bloedtoets ontwikkel om die meer ernstige genetiese aandoenings of afwykings by jong kinders te bepaal.

Volgens die verslag wat in die gesaghebbende American Journal of Human Genetics gepubliseer is, kan sulke toestande reeds in ’n baie vroeë stadium van swangerskap vasgestel word deur die nuwe bloedtoets sonder om ingewikkelde ontledings te doen.

Volgens professor Wouter de Laat wat die navorsing gelei het, is die bloedtoets veel meer “verfynd” en meer doeltreffend en akkuraat as enige vorige metode.

Dit blyk dat die nuwe metode die bestaande wyse van toets onder meer die vrugwater metode geheel en al gaan vervang wat dit aansienlik makliker en vinniger maak terwyl die koste van die bloedtoets ook veel laer sal wees.