Feestelike veiling vir Die Vryburger more

 

Groot opwinding heers vir die veiling wat more (Saterdag 5 Augustus) deur Die Vryburger aangebied word.

Die veiling begin om 10 uur die oggend, en vind plaas op die perseel van Oranjekas op die hoek van Laseandrastraat en Collinslaan in Moregloed, Pretoria.

Daar is egter al van 8 uur aktiwiteite en mense kan sommer die ontbyt daar kom nuttig in die vorm van worsbroodjies en pannekoek, en koffie en koeldrank terwyl daar voldoende tyd is om die items wat opgeveil gaan word, te besigtig.

Mnr. Joseph Kidson, die afslaer wat ook die reëlings hanteer, sê daar is al pragtige items verkry.

Vir die duiweboere is daar ‘n pragtige ingevoerde duiwehok waarmee duiwe vervoer kan word (hooffoto).

Bo en behalwe meubels, is daar histories waardevolle items, soos borsbeelde van genl. Hertzog en dr. DF Malan, en een van die antieke items is ‘n koper brandblusser uit die jaar toet.

Daar sal ook ‘n “rommeltafel” wees, waar van alles en nogwat opgeveil gaan word, van ou wieldoppe tot byna prehistoriese faksmasjiene.

Die opbrengs vir die veiling gaan vir Die Vryburger se fonds. Daar is reeds begin met sekere veranderinge en verbeteringe aan Die Vryburger, en fondse word benodig vir die uitbreiding van Die Vryburger.

Mense kan egter items bring vir die veiling, en dan ‘n gedeelte van die opbrengs vir hulleself neem, en die restant vir Die Vryburger.

Mense kan tot more 09:30 items bring om gelys te word vir die veiling.

Dit beloof om ‘n aangename dag te wees met ‘n heerlike kermisatmosfeer, terwyl voertuie opgepas word deur volksgenote wat deur Volkshulp 2000 voorsien word.

Rugbygeesdriftiges sal nog betyds tuis wees daarvoor.