Europa: Miljoene hoendereiers onbruikbaar

Een van Duitsland se grootste supermarkte, die Aldi groep, het as voorsorgmaatreël teen moontlike onveiligheid, die verkope van sy hoendereier voorraad op die ys geplaas.

Die maatreël volg nadat dit bekend geword het dat hoendereiers van sekere produsente met ’n insektedoder besmet is.

Die eiers bevat glo ’n stof, bekend as fipronil, wat deel is van die insekdoder se samestelling en word gebruik om hoenders te beskerm teen sekere insekte.

Miljoene van die “besmette” eiers kan moontlik op die rakke van die Duitse supermark wees, en om enige onsekerheid uit die weg te ruim het die maatskappy besluit om nie die eiers aan hulle kliënte te verkoop nie.

Die aangeleentheid het soos ’n veldbrand oor Duitsland versprei, en dit het die kettingwinkel groep laat besluit om nie die verkoop daarvan voort te sit nie.

Duitsland, Nederland en België het miljoene eiers van hulle winkels se rakke verwyder en veral eiers in sekere genommerde reekse het volgens toetse hoë persentasie van die fipronil gifstof in die eiers gevind.

Intussen het winkels in Nederland en België ook hulle rakke leeggemaak en die eiers gestoor tot groter duidelikheid verkry is oor watter besendings besmet is.

Dokters in Europa sê die gifstof kan skade veroorsaak aan die mens se lewer indien genoeg van die “onsmaaklike” eiers ingeneem sou word.

Die eerste simptome kan gepaard gaan met pyn, en dokters beveel aan dat sulke persone onverwyld hulle huisdokter moet raadpleeg.