Edward Zuma word vervolg vir rassisme

Nadat pres. Jacob Zuma se seun, Edward, openlik rassisties ingeklim het onder oudministers Derek Hanekom en Pravin Gordhan, gaan hy nou vervolg word in die Gelykheidshof.

Aanvanklik is hy die geleentheid gegee om verskoning te vra, ten einde vervolging vry te spring. Hy het inderdaad “onvoorwaardelik om verskoning gevra”, maar die Menseregtekommissie (MRK), het tog besluit om met klagtes teen hom voort te gaan.

Die VF Plus sê hy is baie bemoedig deur die besluit van die MRK om Edward Zuma by die Gelykheidshof aan te kla asook strafregtelik te laat vervolg

Adv. Anton Alberts sê dit dui op ʼn MRK wat ʼn nuwe blaadjie omgeslaan het en nou “vreesloos sy grondwetlike mandaat gaan uitvoer soos dit hom betaam”. Die VF Plus sal wel die MRK vorentoe dophou om te sien of dit wel die geval is.

Hy sê in die verlede was dit ʼn gespartel om swart-teen-wit of swart-teen-bruin-oortredings vervolg te kry deur die MRK. Die feit dat die MRK gewoonlik spoedig en uit eie beweging opgetree het as swartes die slagoffers van vermeende menseregteskendings was, het duidelik gedui op bevoordeling.

“Die data tot die VF Plus se beskikking ná ʼn Paia-aansoek aan die MRK gerig is oor klagtes wat die MRK sedert 2000 ontvang het, het ook uitgewys dat die MRK geen kriteria het wanneer die instansie besluit het om uit eie beweging te vervolg nie. Dit het gedui op irrasionele, bevooroordeelde en lukrake vervolgings.

“Na jare se gesukkel is hierdie optrede baie bemoedigend en dui dit daarop dat die MRK hopelik nou uiteindelik die grondwetlike instrument sal wees wat almal in beskerming sal neem, ongeag ras,” sê adv. Alberts.

Foto: Edward Zuma