Duiwewedvlug uitslae

Die wedvlug vanaf Colesberg (630 km) het die afgelope Saterdag goed afgeloop. Die weer was effens ongunstig vir die duiwe met ‘n ligte kopwind en ligte wolke wat die duiwe se spoed beperk het. In bewolkte weer vind duiwe hulle rigting moeiliker. Gewoonlik vlieg duiwe in windstil omstandighede teen ongeveer 1330 meters per minuut (nagenoeg 80 km per uur). Meters per minuut (mpm) is die maatstaf wat die duiweboere gebruik omdat dit geriefliker is om so te vergelyk. Omdat elke duiweboer se hok nader of verder van die wedvlugpunt af is, word die afstand na elke hok toe afsonderlik volgens koördinate bepaal, en dit word bereken tot die naaste meter.

Hierdie keer was die wenduif se spoed 1155,0688 mpm of te wel 69,3 km per uur. Wat interessant is, is dat die 50ste duif sy hok teen ‘n spoed van 67,6 km per uur bereik het, en die 100ste duif se spoed was net mooi 67 km per uur. Dit dui op die mededingendheid van die deelnemers. Hulle kon nie vir mekaar wegvlieg nie en moes uithaal om mekaar die loef af te steek. Die eienaars se aansporingsmetodes en hantering van hulle duiwe (voeding en afrigting) speel ‘n groot rol.

Die duiwe wat op hierdie afstand deelgeneem het, word gewoonlik eers na twee weke of langer weer vir ‘n wedvlug ingeskryf. Die volgende wedvlug vind Saterdag 2 September vanaf Richmond (Kaap) plaas, ‘n afstand van ongeveer 760 km.