Duitsers omgekrap oor Russiese aanstelling

Baie Duitse kiesers is woedend nadat dit bekend geword het dat die voormalige Bondskanselier, Gerhard Schröder, ’n direkteurspos aanvaar het by die Russe.

Gerhard Schröder se aanvaarding van die nominasie as direkteur van die reuse Russiese energiemaatskappy, Rosnett, het ’n skokgolf deur Duitsland gestuur.

Dit is veral die Sosiaal Demokratiese party se ondersteuners wat ontevrede is oor die nuwe wending, en die party se sekretaris-generaal wil die aangeleentheid pak om te keer dat die aanstelling werklikheid word.

Gerhard Schröder, wat klaarblyklik ’n baie goeie vriend is van president Vladimir Poetin, word nou nog verkwalik vir sy opmerking in 2004 dat die Russiese president ’n “foutlose demokraat” is.

Kenners wys daarop dat president Poetin 13 jaar gelede nog geen voorstander van die demokrasie was nie en dit nie in sy land toegepas het nie.

Die verslae dat Gerhard Schröder genomineer is as direkteur van die grootste oliemaatskappy in Rusland, en waarskynlik in September aangestel sal word in die amp, het Duitsers nie net kwaad nie, maar ook die land in ’n ernstige verleentheid gebring.

Na Rusland se “anneksasie” van die Krim-gebied in 2014, het die Europese Unie die Rosnett maatskappy op sy sanksies lys geplaas, maar dit lyk nie af die 73-jarige voormalige kanselier daardeur beïnvloed is nie.

Ondersteuners van die Sosiaal Demokratiese party sê die optrede van die voormalige kanselier maak dit nog meer ingewikkeld om die moeilike omstandighede van die huidige verkiesingsveldtog te bestuur.

Foto – Gerhard Schröder en Vladimir Poetin is ou vriende