Debat oor orgaan oorplantings kring wyer

Die internasionale debat oor orgaan oorplanting het in die afgelope weke besonder wyd uitgekring, en die verwagting is dat die onderwerp nog lank gedebatteer gaan word.

Aan die een kant is daar diegene wat meen die beheer op die verkoop van organe is slegs op die wetboek maar word nie toegepas nie aangesien derduisende mense deelneem aan die onwettige verkoop van hul organe.

Die vraag word gevra wie het die reg om te besluit oor ’n persoon se organe behalwe die betrokke persoon self,  wat in elk geval alleen mag besluit of sy organe geskenk mag word.

Die beheermaatreëls wat die verkoop van organe verbied, word ernstig bevraagteken met die argument dat ’n persoon sy organe mag skenk, maar mag dit nie verkoop nie.

Die verbod op orgaan handel is glo ingestel om te verseker dat mense nie beroof word nie, en moet die skenker beskerm word sowel as die ontvanger.

Die ontvanger betaal gewoonlik vir beide pasiënte se operasies, wat dit reeds ’n duur skenking maak, maar as die orgaan ook nog betaal moet word, kan dit baie duurder word.

Die verkoopprys sal deur die “skenker” bepaal kan word, wat waarskynlik tot ’n baie hoë prys kan lei, wetende dat die siek pasiënt enige prys sal betaal.

Maar alles is nog nie gesê oor orgaan oorplantings nie, en intussen word die swartmark prys feitlik daagliks al hoër en betaal ontvangers dikwels astronomiese bedrae vir ’n orgaan wat nie noodwendig in ’n goeie toestand is nie.