Brugkampioenskappe se uitslae

Die Wêreld Brugkampioenskappe tussen 112 lande is afgehandel. Soos gewoonlik het opwinding hoogty gevier soos dat die wedstryd in die kwarteindrondte tussen die VSA se een span en Bulgarye op die 96ste (laaste) hand beslis was. Bulgarye het na die halfeindrondte deurgedring.  Die VSA se ander span het wel verder gevorder.  Omdat die VSA soveel meer brugspelers as enige van die ander lande het en besonder sterk is, is hulle die enigste land wat toegelaat word om twee spanne in te skryf.

Die kampioenskappe in die geheel was van die hoogste standaard en vanaf die kwarteindrondte was al agt lande in ‘n goeie posisie om hulle teenspelers te klop. Die klein verskil in tellings het dit bevestig.  Geen span kon bekostig om ‘n fout te begaan nie, of hulle teenstanders het dit uitgebuit. Almal het met arendsoog opgelet waar hulle kon toeslaan. Hulle het sterk staat gemaak op hulle denkvermoë en geheue om vas te stel wie watter kaarte in hulle hand het en het uiters min foute gemaak. Die streng wetenskaplike benadering was opsigtelik.

Daar moet egter wenners wees en die beste presteerders het mekaar behoorlik opgedreun. Uiteindelik het Frankryk en die VSA (mans), Sjina en Engeland (vrouens), en die VSA en Italië (seniors) in die eindrondte gespeel. Die wenners van die goue, silwer en brons medaljes was onderskeidelik:

Mans  –  VSA, Frankryk, Bulgarye

Vroue  –  Sjina, Engeland, Swede

Seniors  –  VSA, Italië, Swede

Veels geluk aan hulle en ook dankie aan almal wat deelgeneem het. Al het die meerderheid nie medaljes verower nie, was hulle die steunpilare vir die wenners wat andersins nie sou kon deelneem nie. As gevolg van so ‘n groot deelname en die aangename gees wat geheers het, is brug se aansien weer eens bevestig. Die toernooi was wyd op televisie uitgesaai en op die Internet kon die wedstryde regstreeks bekyk word met beroepskommentators om toeligting te gee. Ook was dit vir al die deelnemers ‘n opwindende ervaring,  interessant en lekker om hulle vermoëns te kon beproef.