Brexit: Brittanje sal 40 miljard betaal

Londen sal instem vir betaling van tot 40 miljard euro om uit die Europese Unie te tree, maar nie ’n enkele sent meer as dit nie.

Die besluit van Brittanje is in ’n spesiale verslag vervat wat die afgelope naweek vrygestel is, maar dit is aansienlik minder as die bedrag waarvoor die Europese Unie hulle gereedmaak.

Die Britte is bereid om 10 miljard euro per jaar te betaal vir die volgende drie jaar, met ’n finale vereffening van die balans in die vierde jaar om die lidmaatskap te beëindig.

Die Europese Unie het egter hulle visier op 60 miljard euro gestel volgens die Franse minister van ekonomiese sake, Bruno Le Maire.

Die Fransman beweer dat die Britte nou ’n bedrag van sowat 100 miljard verskuldig is aan die EU, maar niemand het hande geklap vir die opmerking nie.

Waarnemers meen die gesprekke tussen Brittanje en die EU gaan al moeiliker word, veral nadat Brittanje sy duidelike kriteria gestel het oor die beweging van EU werkers nadat Brittanje finaal uit die organisasie gestap het.

Die Britte sê hulle is bewus daarvan dat die EU ’n bedrag van 60 miljard eis, terwyl hulle eintlik ’n mikpunt van 50 miljard het. Brittanje is bereid om niks meer as 40 miljard euro te betaal nie, alhoewel hy meen dit behoort slegs 30 miljard euro te wees.