Boere moet paraatheid opskerp

TLU SA het ‘n dringende beroep op boere gedoen om hulle veiligheid op te skerp en by veiligheidstrukture aan te sluit.

Die oproep kom van TLU SA se adjunkpresident en voorsitter van die veiligheidskomitee.

Hy sê daar was vandeesmaand al 23 aanvalle waarin ses mense dood is, en 277 aanvalle die afgelope jaar waarin 55 mense dood is.

Hy word hierin ondersteun deur dr. Pieter Groenewald van VF Plus, wat sê die vlaag van landwye plaasmoorde en -aanvalle, veral die afgelope paar weke, maak dit toenemend ʼn saak van dringendheid dat boere moet aansluit en inskakel by hul landbou-unies se veiligheidstelsels.

Dr. Groenewald beoog om ʼn skrywe aan al die landbouorganisasies te rig om ʼn bepaling te doen van hul finansiële en ander behoeftes soos toerusting ter beveiliging van boere, waarna hy die regering sal nader om finansiële ondersteuning te gee aan hierdie organisasies se ondersteuningstelsels.

“Indien die regering werklik ernstig is oor voedselsekerheid en die bekamping van plaasmoorde sal hy hierdie behoeftes moet begin steun aangesien die polisie se landelike veiligheidsplan duidelik nie die mas opkom nie.

“Die omstandighede op plase vereis dat boere en hul gesinne veiligheidstelsels vinnig moet kan aktiveer in die geval van ʼn aanval.

“Ek doen daarom ʼn beroep op veral boere om aan te sluit by hierdie veiligheidstelsels. Ek doen ook ʼn beroep op politici, veral oor die grondkwessie, om hulle te weerhou van opruiende uitsprake wat gemoedere teen plaasboere kan beïnvloed,” sê dr. Groenewald.

Foto: Mnr. Henry Geldenhuys