Bloedbad in Barcelona skok Spanje

Op die welbekende Ramblas in Barcelona het ’n minibus ingeploeg tussen die mense en daarmee die middestad in chaos gedompel.

Die daad word as ’n terroriste aanslag beskou, en die aanval het gelei tot die dood van minstens 13 mense en meer as 120 het ernstige beserings opgedoen.

Etlike ure na die gebeurtenis het die Islamitiese Staat verantwoordelikheid aanvaar vir die daad, maar verskeie kenners wys daarop dat honderde terroriste nou terugkeer na Europa nadat hulle verslaan is in die Midde-Ooste.

Die Spaanse polisie in Barcelona het onmiddellik gereageer en klopjagte is uitgevoer, waartydens talle verdagtes in hegtenis geneem is.

Die aanslag het vlakby die Plaça de Catalunya op die besigste tyd, en in die woeligste deel voorgekom, wat daarop dui dat die terroris deeglike beplanning gedoen het.

Die terroris het oor ’n afstand van meer as 600 meter in die voetganger sone gejaag wat honderde mense laat skarrel het om in winkels en kantore te kom uit vrees dat hulle raakgery gaan word.

Algehele paniek het ontstaan, en reddingswerkers, ambulanse en polisiebeamptes was binne minute op die toneel om die beseerdes te behandel en na hospitale te neem.