Bheki Cele kritiseer Zuma

Nog ‘n adjunkminister het openlik na vore getree en die leierskap van Jacob Zuma gekritiseer.

Bheki Cele, adjunkminister van landbou, gaan selfs so ver as om te sê hy is skaam om lid te wees van die nasionale uitvoerende komitee van die ANC, omdat die NUK partylede en Suid-Afrikaners in die steek gelaat het.

Hy beskuldig Zuma daarvan dat hy versuim het om op te tree teen die ernstige aantygings van korrupsie.

Cele neem Jacob Zuma ook kwalik dat hy sy eksvrou ondersteun in haar pogings om hom op te volg.  “Die ANC is geen koninklike dinastie nie en het nie konings wat opgevolg moet word deur hulle koninginne of prinsesse nie.”

Intussen is daar druk vanuit ANC-geledere dat die ondersteuners van die wantrouemosie in Jacob Zuma opgespoor en gedissiplineer moet word.

Voorheen het Zuma ook al gedreig om op te tree teen ANC-lede wat hom in die openbaar kritiseer. Cele kan dus interne moeilikheid verwag, insluitend dat hy sy pos as adjunkminister kan verloor.