Belgiese stad maak reuse roereier gereg

In die Belgiese stad Malmedy word ’n jarelange tradisie voortgesit, en het die inwoners weer vanjaar ’n reuse omelet (of dalk ’n roereier gereg) gemaak wat die rekordboeke herskryf.

Die omelet wat gemaak is van 10 000 hoendereiers is gemaak van goeie onbesmette eiers en het niks te maak met die eierskandaal van Europa waar miljoene eiers vernietig moes word weens besmetting nie.

Honderde inwoners het saamgedrom in die stad se plein om behulpsaam te wees met die gaarmaak van duisende eiers in een omelet.

Georganiseer deur “The World Fraternity of Knights of the Giant Omelet”, wat in 1973 gestig is en toe met die nuwigheid begin het, word dit vandag ’n kulturele tradisie waarby die hele gemeenskap betrek word.

Verskeie meesters in die kookkuns, tesame met vrywilligers het die voorbereidingswerk gedoen om die massiewe eiergereg in ’n pan wat meer as 4 meter in deursnit is, gaar gemaak te kry.

Sowat ’n duisend mense was op een of ander wyse betrokke by die omelet projek en die plaaslike Omelet Ridders se president het die inwoners daarvan verseker dat die omelet nie enige nadelige stof soos insektedoders bevat nie en veilig is om te geniet.

Die tienduisend eiers is vooraf getoets om te verseker dat dit nie afkomstig is uit die voorraad wat besmet is in Europa nie.

Foto – Die kundiges maak seker die omelet brand nie vas nie