Bekgeveg lei tot kant-kies proses

AS die VSA en Noord-Korea werklik tot oorlog sou oorgaan, sal Sjina beslis die Noord-Koreaanse bondgenoot steun.

Dit is die siening wat in die Sjinese staatskoerant uiteengesit is nadat die twee staatshoofde mekaar in die hare gevlieg het.

Sjina sal ook nie toelaat dat die Noord-Koreaanse kommunistiese regime omvêr gegooi word deur Amerika nie.

Die koerant sê as die Noord-Koreaanse weermag eerste tot die aanval oorgaan, sal Sjina neutraal bly en bepaald nie betrokke raak nie.

Die Sjinese koerant, Global Times, het daarmee die Sjinese regering se standpunt gestel in die hoop dat Noord-Korea nie tot so ’n onverantwoordelike daad sou oorgaan nie.

Vroeër het Sjina die Amerikaanse president versoek om die woordestryd te beëindig, maar president Trump het hom blykbaar nie gesteur aan die Sjinese versoek nie.

Kenners wys daarop dat die Noord-Koreaanse kommunistiese leier se dreigemente slegs ’n grootpraat aksie is.

Die land het wel die langafstand missiel ontwikkel gekry, maar die presiese plasing op die teikengebied is veel meer ingewikkeld, en die kommuniste kan dit nog nie toepas nie.

Kenners wys daarop dat dit dus uiters onverantwoordelik is van Kim Jong-Un om sulke dreigemente te uiter terwyl sy missielstelsel nog baie ontwikkeling moet ondergaan voor hy ’n teiken akkuraat sal tref.

Vir Sjina sal dit ’n moeilike tyd word as oorlog nou tussen die twee lande uitbreek, aangesien die land se ekonomie nie na wense is nie, en toetrede tot so ’n oorlog kan vernietigend wees vir sy ekonomie.

Politieke ontleders wys daarop dat indien Sjina sou toetree tot so ’n oorlog, Rusland gedwing sal word om ook toe te tree, wat beteken die Oosterse lande sal teen Westerse lande te staan kom, wat ’n algehele vernietiging van die mensdom kan beteken.

Foto – Kim Jong-Un