Aussies laat ou debat weer opvlam

Om van die bestaande bestel oor te skakel na ’n republikeinse staat, is ’n debat wat reeds dekades gelede in die Australiese parlement gevoer is.  Daar het egter tot hede niks van gekom nie.

Nou is die debat weer ter sprake. Die huidige eerste minister, Malcolm Turnbull, sê die debat behoort uitgestel te word tot die dag wat die Britse koningin uitgetree het, maar die opposisie wil die debat nou al aanvoer.

Die leier van die Arbeidersparty, Bill Shorten, sê sy bewind sal voorsiening maak vir ’n stemming oor verandering van die staatsbestel.

Die volgende verkiesing wat in 2019 gehou word, is volgens Shorten die beste geleentheid om ook oor die moontlikheid van ’n republikeinse staatsvorm te besin.

Premier Turnbull, wat die Republikeinse Beweging gelei het in Australië voor hy die politiek betree het, wil egter uit agting en erkenning vir die Britse koningin Elisabeth wat nou reeds dekades die amptelike staatshoof van Australië is, wag tot haar uittrede.

Foto – Premier Malcolm Turnbull