Wie besit Hong Kong werklik?

Die stad Hong Kong het pas sy eerste vroueleier ingestel tydens ’n kleurryke seremonie waartydens die vroeëre bestuur deur Brittanje ook herdenk is.

Die stad wat voorheen deur die Britte bestuur was, is 20 jaar gelede in die hand van Sjina geplaas wat eis dat die stad deel van sy eiendom is.

Toe die stad op 1 Julie 1997 oorgedra is na Sjinese bestuur, het dié land dit beskou as die “terugkeer na die moederland, Sjina”.

Die Sjinese regering beskou die stad as soewereine deel van Sjina, en het Saterdag die 20ste herdenking van Sjinese beheer herdenk.

By die geleentheid het die Sjinese president, Xi Jinping, Hong Kong se nuwe leier, Carrie Lam, formeel ingestel.

Die president het gesê die mense van Hong Kong geniet meer demokratiese regte as enige ander stad, maar kenners sê die inwoners van Hong Kong stem nie daarmee saam nie.

Carrie Lam en haar verkose komitee vorm die regering van die stad waarvan enkele lede glo hulle sal uiteindelik ’n onafhanklike stadstaat word, maar die stad se inwoners reken die komitee is gelaai met pro-Beijing gesindes.

Die Sjinese president het die inwoners van die stad gewaarsku om nie enige afskeiding van Sjina te probeer nie, want so iets sou ’n “skending van die Sjinese soewereiniteit wees”.