Wêreld Nuusflitse – 24 Julie

Filippyne

Die omstrede president van die Filippyne, Rodrigo Duterte, het in ’n woedebui gesê daar bestaan geen moontlikheid dat hy die “gemene Amerika” ooit sal besoek nie. Dit het gevolg nadat Amerikaners hulle kommer uitgespreek het oor die moontlikheid dat Duterte wel ’n besoek kon bring.

 

VSA

Die regering van Amerika het ’n verbod geplaas op enige besoeke soos toerisme aan Noord-Korea nadat die land verantwoordelik gehou is vir die dood van ’n student wat in hegtenis geneem is, maar enkele dae na sy vrylating in ’n Amerikaanse hospitaal oorlede is.

 

Qatar

Die leiers in Qatar het die anti-terroriste wetgewing strenger gemaak in ’n poging om ander Arabiese lande wat saam met Saoedi-Arabië sanksies teen hom toepas, te probeer oortuig dat hy nie terrorisme steun nie.

 

Europa

Europese politici het die Amerikaanse president, Donald Trump, veroordeel vir die wetgewing wat hy ingestel het deur ’n reisverbod te plaas op moontlike besoekers uit ’n aantal Arabiese lande ten einde terrorisme te bekamp in die VSA.

 

Tamaties

Navorsing in die VSA het glo getoon dat tamaties, veral as dit gaar gemaak word, ’n effektiewe middel is om die meeste tipes velkanker te voorkom.