Welkome reën in Kaap

Die droogtegeteisterde Wes-Kaap het die afgelope 24 uur welkome reën gehad, alhoewel die droogte nog verre van gebreek is.

Saam met die reën, het daar ook sneeu op die meeste berge geval, wat ook verligting kan bring as dit begin smelt en in rivierstrome na opgaardamme beland.

Dit beteken egter nog nie dat die droogte gebreek is nie.

Die reën en sneeu het ook bibberweer saamgebring, en by Sutherland het nagtemperatuur tot byna dubbelsyfers onder kwik gedaal.

Die Weerdiens sê dat die koue toestande na die res van die land kan uitbrei, met sterk dalings in temperature. Dit sal egter van Dinsdag weer begin warmer word namate die kouefront verbytrek en sy byt verloor.