Wat gebeur regtig met staatspensioenfonds?

Dit wil voorkom of die minister van finansies, Malusi Gigaba, verskillende boodskappe uitstuur oor die staat se pensioenfonds, en daar dus onsekerheid is oor wat werklik gebeur..

Op ‘n vraag van VF Plus se voorsitter, adv. Anton Alberts, het Gigaba aangedui dat die staatsdiens-pensioenfonds ten volle befonds is en al sy verpligtinge teenoor pensioenarisse kan nakom.

Aan die ander kant beoog Gigaba om ‘n verdere R14 miljard in die SAL se bodemlose put te gooi, terwyl hy dit wil doen deur die staatspensioenfonds se aandele by Telkom verkoop.

Hierdeur “help” hy ‘n bankrot entiteit en raak ontslae van een van die staat se beter beleggings en dit ten koste van duisende pensioentrekkers se toekomstige uitbetalings.

Verlede maand het die VF Plus adjunkpresident Cyril Ramaphosa in die parlement versoek om stappe te neem om die staatsdiens se pensioenfondse te beskerm.

In antwoord op ʼn vraag oor die stappe wat Gigaba doen om pensioenfondse te beskerm wat deur die staat en staatsbeheerde ondernemings beheer word, is die antwoord dat die nasionale tesourie reeds ondersoek daarna ingestel het om alle staatsdiens-pensioenfondse onder die beheer van die Pensioenfondswet te plaas.

Adv. Alberts sê dit sal beteken dat lede toegang sal hê tot die beregtiger vir pensioenfondse wat kan ingryp en gratis ondersoeke doen na enige onreëlmatighede om lede se belange te beskerm.

Foto: Adv. Anton Alberts