Waarheen witman?

Is jy tevrede met jou lewensomstandighede in die nuwe SA?  Het jy aanvaar dat korrupsie en bedrog deel van elke dag se gebeure gaan wees?  Is jy bereid om jouself, jou vrou en jou kinders bloot te stel aan: kapings, verkragting, aanranding en intimidasie?  As jy positief op hierdie vrae antwoord is hierdie brief nie aan jou gerig nie.

‘n Mens is elke dag meer en meer verstom oor die gebeure rondom jou in die nuwe Suid Afrika.  Dalk moet daar eerder gesê word die gebeure as sulks is nie verstommend nie,  want ons leef ‘n ‘n harde barbaarse kontinent en dit wat nou gebeur, het oor jare in Afrikalande gebeur.  Daar is gewaarsku sedert 1969 dat ons op ‘n glybaan is maar dit is afgemaak as doemprofesieë en ‘n negatiewe ingesteldheid.

Wat mens wel verstom is ons mense, die Afrikaner, se reaksie rondom dit wat daagliks plaasvind in bykans elke dorp en stad.  Die misdaad, die moorde, die korrupsie en die algehele verval wat plaasvind sou mens dink rede wees tot weerstand of teëstand by ons volksgenote. Maar wat gebeur?

Jan publiek wend hom tot die sosiale media en haal sy frustrasie daar uit deur te vloek en skel oor alles rondom hom en dan te gaan sit, sy vleisie braai, selfs nog deel te wees van die rugby god elke Saterdag, waar wie ook al vir sy span speel.

Sou daar gepraat word oor die politiek, is almal se hoop skielik op Ramaphosa, die bulti-biljoener, die kapitalis wat sal toesien dat die reënboogland van Mandela en De Klerk weer sy regmatige plek kan inneem in Afrika en sal toesien dat beleggers weer geld inpomp in die bankkrot ekonomie.  Sou ons as volk se enigste hoop gevestig wees op ‘n Afrikaan om vir ons ‘n beter toekoms te verseker, dan is dit ‘n ydele hoop en ‘n gryp na strooihalms.

Word die nuus en nuusgebeure bespreek, is die versugting dat die behoudende media asseblief moet ophou om die negatiewe gebeure in die land te rapporteer, want dit werk negatief in op gemoedere.

Word daar gepraat oor ’n alternatief vir die huidige toestand en wel in die vorm van ‘n eie grondgebied, kom die doemprofete na vore wat enige voorstel afskiet as onprakties en onhaalbaar.  Die ander volksgenote sien nie kans daarvoor om te trek of te hervestig in ‘n eie gebied nie – ten spyte van syfers wat toon dat die grootste “trek” van Blankes tans plaasvind na die Wes-Kaap.

Hoekom ontbreek die wil by ons mense om weg te kom van misdaad en moord en wat ook al?  Gaan dit finansieel nog te goed met ons mense? Het ons ruggraatloos geword? Sien ons nie kans om vir ons kinders en kindskinders ‘n toekoms te skep nie?

Kom godsdiens ter sprake, dan sien ons ‘n volk wat Sondag vir Sondag hul tyd in winkelsentrums deurbring, wat vlooimarkte besoek, wat gaan “naweek hou” om van die spanning ontslae te raak. Kerke word nie meer besoek nie, want “my dominee dwaal in sy verkondiging” of “ons kerk soek net geld”, of, of ,of. So word die een na die ander verskoning gesoek om nie in ‘n kerk te kom nie. Dit gesê,  weet ons dat ‘n kerk nie jou saligheid verseker nie, maar jy wil elke dag eet om krag te kry om te werk maar soek nie geestelike voedsel wat ver meer belangrik is vir ons ewige bestemming.

Dit alles gesê, wat staan ons te doen?  Kom ons keer terug na die Drie-Enige God wat die Afrikanervolk deur ‘n Bloedrivier gelei het. Kom ons leef nie vir vandag nie maar vir ‘n ewige toekoms saam met Hom.  Kom ons sterk die hande wat poog om vir ons volk “iets” anders daar te stel as dit wat ons nou in lewe.  Kom ons bid dat daar uitkoms vir ons as gesinne en ons as volk sal kom.

Kom ons doen iets eerder as om apaties eenkant te staan en wag vir ‘n uitkoms.

Jan Coetzee