Venezuela hou nie-amptelike verkiesing

Minstens een persoon is gedood toe ’n skieter ’n aanval uitgevoer het onder mense wat saamgedrom het by ’n stembus in Caracas, die hoofstad van Venezuela.

Die grootste opposisieparty in Venezuela het ’n nie-amptelike verkiesing gehou nadat hulle moes verneem dat die omstrede president van die land geweier het om ’n verkiesing uit te skryf.

Met die nie-amptelike verkiesing het die opposisie ’n uitdaging gerig tot die omstrede president Nicolas Maduro wat as ’n diktator bestempel word.

President Maduro se sosialistiese koalisieregering word verantwoordelik gehou vir die dood van iemand wat ook na die stembus wou gaan, maar die president het die beskuldiging verwerp.

Die president se sosialiste party, die Demokratiese Eenheid Rondetafel, wil die land se grondwet wysig, en opposisiepartye is reeds maande lank in straat optogte om te protesteer daarteen.

Tientalle mense het reeds tydens optogte omgekom, en honderde is beseer deur veiligheidsmagte wat pro-regering optree.

Venezuela se ekonomie, wat gebou is op sy ryk olievelde, is reeds die afgelope paar jaar onder geweldige druk nadat die olieprys skerp gedaal het.

Die swak verhouding van die land met sy buurstate bemoeilik dit vir die land se mense wat voedsel en ander noodsaaklike lewensmiddele in Columbië moet koop omdat die winkelrakke in Venezuela leeg staan weens die finansiële krisis.

Van Venezuela se 31 miljoen kiesers het sowat 8 miljoen teen die beoogde wysigings van die Grondwet gestem.