Turkye ontslaan nog duisende werkers

Die Turkse president Erdogan is steeds besig met ’n heksejag en het nog sowat 7 000 Turkse werknemers ontslaan wat verdink word van medepligtigheid in verlede jaar se staatsgreep poging.

Die optrede volg presies ’n jaar nadat die mislukte staatsgreep uitgevoer is en derduisende mense daarna vervolg is.

Die grootste aantal slagoffers is akademici wat na bewering met politieke bedrywighede besig is en propagandisties optree teen die bewind van die omstrede president Erdogan.

Talle senior lede van die polisiemag en staatsamptenare is ook ontslaan omdat hulle na bewering die staatsgreep op een of ander wyse ondersteun het.

Die jongste veldtog is die soveelste poging van die president om mense te ontslaan uit hulle ampte wanneer daar slegs ’n vermoede bestaan dat die slagoffers betrokke was by die staatsgreep poging.

Kort na die staatsgreep poging uitgevoer is, het die president en sy lojale ondersteuners in die weermag en polisie, sowat 150 000 mense uit hulle poste verwyder waarvan duisende onskuldig is aan enige misdryf, maar wel gekant is teen die regering.

Later is nog sowat 50 000 mense ontslaan waarvan talle regters, polisie, militariste, en selfs joernaliste is wat onder verdenking gestaan het.

Intussen het president Erdogan gesê diegene wat verraad teen Turkye pleeg, sal nie ongestraf bly nie.