Trump versterk bande met Pole

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het met sy besoek aan Pole, die bande tussen die twee lande verstewig en gesê Pole is een van die min lande in Europa wat sy regmatige deel aan Navo betaal.

Trump het Pole besoek voor die aanvang van die G20 beraad wat in Duitsland gehou word.

Samesprekings met die Poolse president, Andrzej Duda, kort voor de G20 beraad, is volgens politieke waarnemers van groot betekenis aangesien die land en Duitsland ernstige verskille het oor onwettige immigrante en sekere handelinge van die EU.

President Trump het gesê Washington werk saam met Pole om die destabilisering wat deur Rusland veroorsaak word, teen te werk.

Kenners is egter van oordeel dat die werklike rede vir Trump se besoek aan Pole nie bekend gemaak is nie, en het waarskynlik veel meer om die lyf as wat tot hede bekend gemaak is.

Trump het later die dag ’n skare van derduisende Poolse kiesers toegespreek waarna hy vertrek het na Duitsland vir die G20 beraad.