Trump sukkel om beloftes na te kom

President Donald Trump se gewildheid as Eerste Burger van Amerika, het skerp gedaal weens sy onvermoë om verkiesingsbeloftes tot uitvoer te bring.

Die vervanging van ObamaCare as versekeringsplan vir gesondheidsorg was die grootste geelwortel wat uitgehou is na die Amerikaanse kiesers.

Na drie pogings om ’n alternatiewe versekeringsplan in plek te stel, is daar steeds geen vooruitsigte dat ObamaCare met ’n beter uitgawe vervang gaan word nie.

Met die jongste poging het enkele Republikeine ook teen die voorstel gestem en is dit verwerp met ’n geringe meerderheid van stemme terwyl die Republikeine ’n sterk meerderheid vorm in beide die Senaat en Huis van Afgevaardigdes.

Die belofte om ’n grensmuur tussen Meksiko en die VSA op te rig, het stil geword nadat die buurland se president dit onomwonde gestel het dat sy land nie sal betaal vir die oprigting soos wat Trump belowe het nie.

Wat waarskynlik die president se grootste vernedering is, was sy aankondiging dat hy nie die Parys Akkoord oor klimaatsverandering steun nie. Dit het daartoe gelei dat Amerikaners buite die regeringstruktuur besluit het om self steun te verleen aan die Akkoord.

Nou blyk dit dat die Franse president Macron, met sy sosialistiese sjarme sy Amerikaanse ampsgenoot so beïnvloed het dat hy tog uiteindelik sal inkoop op die ooreenkoms.

Benewens die drie belangrikste verkiesingsbeloftes wat nie tot uitvoer gebring is nie, het die president ook omstrede uitlatings gemaak wat later deur die opponerende Demokrate teen hom gebruik is en wat sy aansien verder laat daal het onder die kiesers.

Die president het ook in die vaarwater beland oor sy beweerde betrokkenheid in die Russiese aanslag en inmengery in die verkiesing, veral toe sy adviseurs en later sy eie seun skakeling met Russiese politici gehad het.

Aan die kredietkant kan gesê word dat president Donald Trump elke keer deur die Republikeine gedwarsboom is, veral met die grensmuur se oprigting wat hulle nie wou goedkeur nie, die ObamaCare se alternatief wat te duur is, en die skakeling met Rusland deur adviseurs wat sonder sy medewete daarby betrokke was.

Hoe dit ook al mag wees, die kiesers voel gekul omdat die beloftes nie nagekom word nie, en dit verklaar waarom president Trump slegs deur 40% van die kiesers gesteun word, as meningsopnames geglo moet word.