Trump plaas druk op Venezuela

Die Trump-administrasie in Amerika het in ’n verklaring gesê “alle opsies word oorweeg” teen Venezuela, en sluit die moontlikheid in van staking van olie invoer uit die land.

Met dié opmerking uit die Wit Huis word die afleiding gemaak dat die regering Venezuela waarsku dat daar opgetree gaan word indien ’n verandering aan hulle Grondwet aangebring word.

Die opposisiepartye in Venezuela het ’n reeks optogte gehou om beswaar te maak teen die regering van president Nicolas Maduro wat beoog om die Grondwet so te wysig dat hy diktatoriale magte sal kry.

Volgens ’n woordvoerder in die Wit Huis is Amerika besig om in samewerking met ander lande, ekonomiese sanksies toe te pas teen die land wat reeds op die rand van algehele finansiële ineenstorting verkeer.

Sowat ’n 100 mense het reeds met hulle lewens betaal in protesoptogte teen die president se weiering om ’n verkiesing of referendum te hou.

Polisie het in verskeie voorvalle gewelddadig opgetree teen betogers wat vreedsaam aan optogte deelgeneem het.

Byna 8 miljoen van die meer as 30 miljoen kiesers het reeds te kenne gegee dat hulle gekant is teen die voorgenome Grondwet wysigings, maar die president gaan voort met sy planne om groter magte vir homself toe t eien.

Foto – President Nicolas Maduro