Trump as eregas van Franse president verwelkom

Met Franse gasvryheid wil president Emmanuel Macron sy Amerikaanse ampsgenoot oorweldig in ’n poging om president Trump te oorreed om die Parys klimaatakkoord te ondersteun.

Joernaliste wat die Amerikaner op die eerste dag van sy besoek as eregas van Frankryk ondervra het oor ’n moontlike verandering in Amerika se benadering, wat die antwoord kort en saaklik.  “Ons sal sien wat gebeur”, was sy reaksie op die vraag of die VSA steeds staan by sy siening dat die Parys ooreenkoms soos aanvanklik deur Europese lande aanvaar is, nie aanneemlik is nie.

Tydens die G20 beraad in Duitsland het die Franse president gesê hulle is bereid om sekere aanpassings te maak in die ooreenkoms ten einde Amerika aan boord te kry.

Alhoewel nie veel besonderhede bekend gemaak is oor die gesprekke tussen die twee leiers nie, is dit bekend dat Frankryk alles moontlik sal doen om Amerika se betrokkenheid by die klimaat akkoord te betrek.

Met ’n onthaal in ’n spogrestaurant hoog in die bekende Eiffeltoring, waar eksotiese geregte voorgesit is, het die Franse president sy eregaste onthaal, maar moes tevrede wees dat die Amerikaanse president geen alkohol gebruik nie, en dus nie die kon spog met die beste Franse wyne nie.