Trop skape spring na hul dood

Honderde skape in ’n trop van ’n Franse boer het na hulle dood gespring uit vrees vir ’n beer wat een van die skape verslind het.

Die skaapboer in Couflens, in die suidwestelike deel van Frankryk, sê die skape het uit paniek verkies om die afgrond aan te durf en hulle dood te val eerder as om die beer ten prooi te val.

Die meer as 200 skape het by ’n 220 meter hoë afgrond afgetuimel wat die grens met Spanje vorm, en die boer kon slegs 170 van die skape se karkasse herwin omdat baie nie bereik kon word nie.

Ondersoeke het aan die lig gebring dat ’n soortgelyke voorval verlede jaar plaasgevind het toe sowat 130 skape op dieselfde wyse na hulle dood geval het toe ’n beer tussen hulle ingestorm het.

Die Franse regering het onderneem om die boer ten volle te vergoed aangesien die regering ’n beletsel geplaas het op die jag en doodskiet van bere.