Tienduisende Turke protesteer teen Erdogan

Derduisende Turkse kiesers het Sondag oor ’n afstand van 400 kilometer geprotesteer teen die bewind van die Turkse president Erdogan.

Die optoggangers het uit verskillende rigtings gekom om in Istanboel saam te kom en te eis dat reg, regverdigheid en geregtigheid toegepas word.

Die opposisieparty se voorsitter, Kemal Kilicdaroglu, het protesteerders se opmars vanaf Ankara na Istanboel georganiseer.

Die optog in Istanboel se strate wat kilometers lank was, het na raming sowat 110 000 mense gehad wat met vlae en baniere in ’n vreedsame optog was.

Sowat 15 000 polisiebeamptes het die verrigtinge dopgehou om te verseker dat alles vreedsaam verloop, maar geen voorvalle is gerapporteer nie.

Die optog, “Mars vir Geregtigheid” is gehou nadat die opposisieparty se parlementslid, Enis Berberoglu, vir 25 jaar tronk toe gestuur is omdat hy sekere omstrede geheime onthul het.

Die mars wat ook teen die beleid van president Recep Tayyip Erdogan gehou is, het die regering genoodsaak om die parlementslid te ontslaan uit die tronk en onder huisarres te plaas.

’n Klimaat van angs word bespeur onder kiesers nadat die Erdogan bewind met ’n heksejag begin het teen moontlike ondersteuners van die mislukte staatsgreep van verlede jaar.