Terroriste sweer wraak teen Europa

Interpol het ’n lys van 173 terroristevegters verbonde aan die Islamitiese Staat (IS) saamgestel wat opgelei is om in Europa met selfmoord bomaanvalle as vergelding te begin.

Die terroristebeweging het swaar verliese gelei die afgelope maande, veral in die groter stede soos Mosoel en Raqqa, en het begin met ’n program van weerwraak met motorbomme.

Besonderhede van sulke vegters wat opgelei en teruggestuur is na Europa, is deur die misdaadbestryding organisasies versamel tydens aanvalle op die IS-terroriste basisse in Sirië en Irak.

Gesaghebbendes in Europa is van mening dat aanslae in Europa verwag kan word sodra die Kalifaat finaal in duie gestort het.

Die Islamitiese Staat se kragte raak uitgeput nadat minstens drie van sy hoofleiers in lugaanvalle gedood is, en talle vegters gesneuwel het in die verwoestende aanvalle van die afgelope weke.

Die terroristebeweging se aktiwiteite word ook aan bande gelê sedert die oliebronne en onregmatige invordering van belasting by burgerlikes nie meer ’n inkomste is nie nadat hulle verdryf is uit die groter stede in die Midde-Ooste.

Dit bring mee dat die klein inkomste waaroor hulle beskik nie voldoende is om die vegters te vergoed nie, en het honderd reeds die beweging verlaat om elders ’n heenkome te vind.