Terroriste probeer vliegtuig afskiet

Die Australiese eerste minister, Malcolm Turnbull, het die afgelope naweek bekendgemaak dat die Islamitiese Staat terroriste gepoog het om een van sy land se vliegtuie af te skiet of op te blaas.

Die Australiese veiligheidsmagte kon egter daarin slaag om die terroriste te stop en het die poging omvêrgegooi deur affektiewe optrede.

Die premier het gesê dat spesialiste blitsvinnig opgetree het en ’n beplande terreurdaad om ’n vliegtuig op te blaas, betyds te voorkom.

Die sekuriteitnetwerk by die lughawe van Sydney is intussen nog verder opgeskerp om toekomstige aanslae betyds te keer.

Vier terroriste wat klaarblyklik verbintenis het met die Islamitiese Staat, is in hegtenis geneem toe ’n span van sowat 40 veiligheidsbeamptes op hulle toegeslaan het.

Die kommissaris van die federale polisie, Andrew Colvin, sê hulle het enkele ure voor die terroriste sou toeslaan, ’n wenk ontvang wat blitsvinnige optrede vereis het.

Hy sê die voorval is nog ’n bewys dat daar altyd terroriste is wat op die uitkyk is om ’n terreurdaad uit te voer, en daarom mag die veiligheidsnetwerk nooit sy konsentrasie laat verslap nie.