Te vroeg vir mense na Mars

 

Die Amerikaanse ruimtevaart organisasie, Nasa, is reeds geruime tyd besig met beplanning om mense na Mars te stuur, maar sê in sy jongste verslag dit is nog nie moontlik nie.

Nasa sê dit is tans ook nie betalend om mense na Mars te stuur as eerste pioniers nie, en tegnologies baie moeilik om ’n veilige landing te programmeer.

Alhoewel dit tegnies moontlik is om ruimtereisigers na Mars te stuur om sekere waarnemings te doen, is dit nie moontlik om die reisigers te laat land op die planeet nie.

William Gerstenmaier, die hoof van Nasa se ruimtevaartafdeling, sê in ’n verklaring dit is ook nie moontlik op hierdie stadium om ’n aanduiding te gee oor wanneer so ’n landing moontlik sal wees nie.

Die jongste verklaring van Nasa is opvallend omdat die organisasie tot hede redelik vaag en selfs geheimsinnig gebly het oor die moontlikhede om mense na Mars te stuur.

Die reiskoste na Mars verhoog drasties wanneer toerusting beskikbaar gemaak moet word om mense se landing moontlik te maak, maar tot hede is daar nog geen finale plan op die tafel om ’n landingsvaartuig te ontwerp nie.

Met die ontsaglike koste verbonde aan die bou van ’n landingsvaartuig is daar weinig wat gedoen kan word om die totale reiskoste te verminder, behalwe om herwinbare komponente te benut soos wat Elon Musk met sy SpaceX projek suksesvol gedoen het.

Nasa behoort volgens wetenskaplikes in die VSA, te kyk na die moontlikheid om groot skenkings van nyweraars te kry om ’n eerste reis moontlik te maak en waarvan die grootste deel van die toerusting herwinbaar sal wees.