Slegs e-motors in Frankryk

Frankryk is vas van plan om klimaatsverandering te bestry, en sy minister van omgewingsake, Nicolas Hulot, het ’n ambisieuse plan voorgelê wat onder meer radikale verandering in die motorbedryf voorsien.

Volgens die minister sal Franse motorvervaardigers nie na 2040 toegelaat word om enige motors te verkoop met ’n binnebrand enjin nie.

Benewens die radikale maatreël sal Frankryk ook daarop ingestel wees om vry van koolsuurgas besoedeling te wees teen die jaar 2050.

Die opspraakwekkende beleidsrigtings was die hoofberig in die Franse media, maar kenners wys daarop dat die koers moeilik binne so ’n kort tyd tot uitvoer gebring kan word.

Frankryk is die wêreld se sesde groot motorvervaardiger wat petrol en diesel aangedrewe is, en waarnemers meen die bekostigbaarheid van e-motors die grootste enkele faktor is wat die plan kan laat skipbreuk ly.

Miljoene motoriste sien net nie kans om ’n e-motor aan te koop teen bedrae wat tot vier keer meer is as motors met ’n binnebrand enjin nie.

Minister Hulot het glo later toegegee dat die plan nie maklik tot uitvoer gebring sal word nie, maar volstaan steeds daarby as mikpunt vir 2050.

Indien Frankryk daarin sou slaag om die doelwit te bereik, kan dit die einde van die binnebrand masjien beteken wat meer as 150 jaar in diens van die mensdom gestaan het.