Sjina kry voet in die deur deur Eskom lening

Eskom het bekendgemaak dat ‘n leningsooreenkoms met Sjina aangegaan is ter waarde van R19,6 miljard om die Medupi steenkool kragsentrale te finansier.

Die lening sal oor 15 jaar terugbetaal word en volgens Anoj Singh, Eskom se hoof finansiële beampte, sal Eskom se skuld nou oploop na R 500 miljard.

Wenkbroue word gelig oor die lening, aangesien Eskom net verlede maand deur Moody’s verder in rommelstatus afgegradeer is. Geen bestendige en betroubare instansie sal so ‘n lening toestaan as daar nie verskuilde motiewe betrokke is nie.

Dit is al jare bekend dat Sjina besig is met ‘n geleidelike ekonomiese kolonisasie van Afrika. Die verwagting is dat Eskom nie die lening kan terugbetaal nie, wat die Sjinese die geleentheid sal gee om Eskom oor te neem en so ‘n groot voet diep in die Suid-Afrikaanse ekonomiese deur kan gee.