Siriese stad Raqqa geheel omsingel

Die Siriese stad Raqqa is deur Koerdiese troepe omsingel en word bygestaan deur Siriese vegters en die Amerikaans geleide koalisiemagte.

Raqqa is etlike jare gelede deur die Islamitiese Staat ingeneem en deur die terroriste verklaar as hulle “hoofstad”.

Die stad is volledig omsingel, en die belangrikste roetes na die stad, en sy ontsnaproetes, word deur die magte beset.

Die menseregte beweging het bevestig dat die stad omsingel is en die ontsnaproetes afgesper is.

Gevegte met die Islamitiese Staat wat in die stad ingegrawe is, het reeds in November verlede jaar begin, en die verwagting is dat dit nog ’n geruime tyd van stryd sal vra voordat die terroriste verslaan is.

In die afgelope week het die Koerdiese troepe daarin geslaag om ’n gebied van sowat 20 vierkante kilometer te verower, en daarmee is al die snelweë aan die suidekant van die stad onder hulle beheer.

In een deel van die stad is daar egter nog sowat 4 000 terroriste en na skatting is 100 000 burgerlikes nog woonagtig in die stad.