SA word wêreld se muishond

Die Internasionale Strafhof in Den Haag het bevind dat Suid-Afrika verkeerd was en dat hy wel in 2015 die Soedannese president, Omar Al-Basjir, in hegtenis moes geneem het.

Suid-Afrika het vyf dae tyd om aan te dui of hy appèl teen die uitspraak wil aanteken.

Die feit dat Suid-Afrika geweier het om ’n persoon in hegtenis te neem wat hom aan ernstige menseregtevergrype skuldig gemaak het, dien as bewys dat die ANC-regering nie veel waarde heg aan menseregte nie, en die mense van Suid-Afrika moet daarvan kennis neem, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep, in reaksie op die hofuitspraak. Hy sê die uitspraak was te wagte.

Hy sê ook dit is kommerwekkend dat Suid-Afrika se regering sy eie vertolking kon heg aan duidelike riglyne van die strafhof, wel wetende dat hy teenstrydig optree met die Statuut van Rome.

“Die strafhof se uitspraak bevestig wat die howe in Suid-Afrika reeds bevind het. Dit is dus duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering willens en wetens verkeerd opgetree het toe hy geweier het om die strafhof se opdrag uit te voer.

“Suid-Afrika se geldsake is onlangs tot rommelstatus afgegradeer. Nou hierdie uitspraak. Suid-Afrika se status as een van muishondlande van die wêreld, groei vinnig,” sê dr. Mulder.