Roundup onkruiddoder word verbied

Die regering in Vlaandere het ’n resolusie aanvaar wat die gebruik van Roundup onkruiddoder verbied, maar die verkoop daarvan mag wel nog plaasvind totdat die federale regering van België anders besluit.

Die produk bevat glifosaat wat klaarblyklik bevorderlik is vir kanker en word derhalwe nie langer toegelaat in Vlaandere nie.

Die regering het op aanbeveling van die Minister van Omgewingsake, Joke Schauvliege, besluit om ’n verbod te plaas op die gebruik van die produk.

Die Vlaamse regering het die besluit blitsvinnig geneem nadat dit geblyk het dat die vervaardigers, Monsanto, die wetenskaplike studies beïnvloed het om te voorkom dat die gewilde onkruiddoder as kankerwekkende middel uitgewys word.

Die federale Minister van Landbou, Willy Borsus, wag nou op die besluit van die Europese Unie, maar intussen is die gebruik van die produk nie toelaatbaar in Vlaandere nie.