Pro Russe stig staat in Oekraïne

Pro-Russiese rebelle in die ooste van die Oekraïne het ’n nuwe staat gestig nadat hulle twee jaar gelede “afgestig” het van die land.

Die nuwe staat, Malorossiya, wat vertaal beteken “Klein Rusland”, bestaan uit die Krim gebied en ’n aangrensende noordelike streek waar die stad Donetsk geleë is.

Duitsland is die eerste land wat die optrede veroordeel het en te kenne gegee het dat die sogenaamde nuwe staat nie erken word nie.

Die pro-Russiese leier, Alexander Zakharchenko, het aan die media in Donetsk gesê die nuwe staat sal ook aspireer om ander gebiede in die Oekraïne toe te laat om aansluiting te vind.

Hy sê die res van die Oekraïne is welkom om by die nuwe staat in te skakel wat bekend staan as ’n Volksrepubliek.

Westerse lande het reeds verskerpte sanksies teen Rusland ingestel weens die beweerde ondersteuning wat aan die pro-Russiese separatiste gebied word.

Intussen duur gevegte tussen die pro-Russiese rebelle en die soldate van die Oekraïne steeds voort, en waarnemers meen die onafhanklikheidsverklaring wat nou aangekondig is, sal die konflik in die gebied verhoog, en kan Rusland sy ondersteuning verskerp.

Terwyl die Westerse lande glo dat onderhandelings die enigste metode is om die konflik te beëindig, blyk dit dat beide die rebelle en die regering van Oekraïne onwillig is om te onderhandel.

Foto – Rebelle leier Alexander Zakharchenko