Pride of India / Lagerstroemia speciosa

“Pride of India” is ‘n pragtige boom en blom oorvloedig.  Dit is in die familie Lythraceae en die rang is Myrtales. Die genus “Lagerstroemia” was vroeër beskryf deur Carl Linnaeus. Die naam “Lagerstroemia” is afgelei van Magnus von Lagerstroem, ‘n weedse natuurkundige.

“Pride of India” blom in verskillende kleure, van wit tot donker rooi/pers. Die mees algemene kleur wat ons in die meeste tuine sien is pienk. Die boom groei tot 20 meter hoog en die bas is sag en skilferig. Hierdie boom is immergroen en die blare is ovaal, word 8 – 15 cm lank en 3 – 7 cm breed met ‘n duidelike hoofaar. Hierdie boom blom eenmaal ‘n jaar in die warmste tyd van die somer.

Dit groei baie goed in enige klimaat, maar floreer in subtropiese gebiede. “Pride of India” is ‘n ornamentele plant en kikker enige tuin op. In sekere Oosterse lande word die blare as ‘n kruietee getrek en gedrink. Die Phillipynse departement van gesondheid beveel hierdie kruietee aan vir verskeie kwale. Onthou egter om altyd u dokter te raadpleeg indien u van ongewone kruie (of wat ons nie ken as kruie nie) gebruik wil maak. In Viëtnam word die jong blare as groente gekook en geëet. Hier word die ouer blare en die ryp sade gebruik in hulle tradisionele medisyne om bloedsuiker laag te hou.

Tuiniers, hierdie boom groei maklik en u kan gerus oorweging daaraan skenk om bietjie kleur in die tuin te bring deur een of twee van hulle aan te plant. Geniet u tuin tot volgende keer.