Poolse president veto hervormingsplan

Die Poolse president, Andrzej Duda, het sy vetoreg gebruik teen die kontroversiële hervormingsplan van die nasionalistiese regering wat wetgewing wou deurvoer wat hulle sou magtig om regters aan te stel.

Opposisiepartye het massa optogte gereël om beswaar te maak teen die nuwe wetgewing wat die regering bevoegdheid sou gee om regters vir die hooggeregshof aan te stel.

Die nasionalistiese konserwatiewe regering in Pole beskik oor ’n sterk meerderheid in die parlement, en het die wetgewing deurgevoer tot ontsteltenis van opposisiepartye.

Politieke ontleders sê dit is ’n merkwaardige gebeurtenis in die Poolse politieke geskiedenis dat die president, wat ’n getroue lid van die nasionalistiese PS party is, bereid is om sy vetoreg te gebruik om te voorkom dat die wetgewing van krag word.

Verskillende instansies het beswaar gemaak teen die beoogde wetgewing, en selfs die Europese Unie (EU) het ook sy stem gevoeg by die van die beswaarmakers.  Om die Poolse regering te probeer oortuig om nie voort te gaan met die wetgewing nie, het die EU selfs gedreig met sanksies teen Pole.

Diegene gekant teen die wetgewing sê dat so ’n mag aan die regerende party sal beteken dat die onafhanklikheid van die regbank ernstig aangetas word.

President Duda het ter verduideliking gesê dit is wel nodig dat belangrike hervormings toegelaat moet word, maar die gegewe wetgewing is nie ’n hervorming maatreël nie, en word slegs as ’n verbreding van die parlement se magte beskou.

Die president het bygevoeg dat die Departement Justisie wel in die volgende paar maande moet hervorm, maar dit moet plaasvind sonder om die onafhanklikheid van die regbank aan te tas.

Foto – President Andrzej Duda