Pole in opstand oor hervorming

Tienduisende woedende Poolse kiesers het die naweek in die Poolse hoofstad Warskou die strate ingevaar en opgeruk na die parlement uit protes teen die omstrede hervormingswetgewing.

Die konserwatiewe regering van Pole het met hervormings die wetgewing gewysig sodat die parlement meer seggenskap oor juridiese aspekte kry.

Opposisiepartye sê dit bring mee dat die regbank se onafhanklikheid aangetas word, en plaas onbehoorlike mag in die hand van die regerende party.

Meer as 50 000 mense het in die hoofstad betoog, en duisende mense het in ander stede van die land in optogte saamgekom om hulle weerstand en ontevredenheid te demonstreer.

Die betogende kiesers eis dat die land se president, Andrzej Duda, sy vetoreg gebruik om die wetswysigings afgekeur te kry wat ’n radikale invloed gaan uitoefen op die hooggeregshof se onafhanklikheid.

Die skeiding van mag behoort te alle tye geëerbiedig te word, maar die Poolse regering het selfs die versoeke van die Europese Kommissie om die beginsel te gehoorsaam, geïgnoreer.

Intussen het die Poolse Senaat ook sy stempel van goedkeuring op die voorgestelde wetswysiging gesit te midde van hewige reaksie in die strate van die belangrikste stede.