Plaasaanval wys dit gaan oor rassisme

Die aanval op die 77-jarige mnr. Martin Neal van die plaas Droogekloof in die Warmbad-distrik, het geen twyfel gelaat dat plaasaanvalle rassisme en haat teen blankes as grondslag het nie.

Die ondervoorsitter van TLU SA se Waterberg Distrikslandbou-Unie, mnr. Henk van de Graaf, wat op die toneel was en met mnr. Neal oor die aanval gepraat het, sê dat vier terroriste deur die nag mnr. Neil se huis oopgebreek het en hom in sy slaapkamer oorval het.

Hulle het hom deeglik toegetakel sodat van sy ribbes gebreek is, hy het kop beserings opgedoen en sy mond is stukkend geslaan. Hulle het hom op die grond gegooi en sy hande en voete met skoenveters vasgebind. Hulle het daarop ‘n kombers oor sy kop gegooi en hom meegedeel dat hulle hom gaan doodskiet, waarop mnr. Neal gevra waarom hulle dit wil doen en wat hy verkeerd gedoen het. Daarop het hulle in Engels vir hom gesê: “Want ons hou nie van witmense nie”.

Hulle het hom egter nie geskiet nie maar op die koue vloer gelos, en sy twee handwapens, televisie, rekenaar, selfoon, veiligheidsradio en sy Toyota RAV 4-voertuig gesteel en hulle uit die voete gemaak.

Mnr. Neal, wat normaalweg met ‘n kierie loop, kon nie van die koue grond af opstaan nie en het vir etlike ure daar gelê totdat sy huishulp op hom afgekom het.

Die plaas se hek was nie oopgebreek nie en die slot was oopgesluit, sodat die terroriste maklik kon inkom en netso maklik kon uitkom met die voertuig.

Mnr. van de Graaf sê die polisie het ure geneem om daar uit te kom. “Mnr. Neal was al lankal weg nadat die ambulans hom kom haal het, en die HPG-veiligheidsmaatskappy het al hulle ondersoek op die toneel afgehandel toe die polisie eers etlike ure later daar aankom. Die twee konstabels van die uniformtak was uiters arrogant en onprofessioneel, en het uiteindelik roekeloos van die toneel weggejaag.”  Mnr. Deon Beukes, die voorsitter van die Gemeenskap Polisie Forum, wat ook op die toneel was, het summier klagtes teen die twee swart konstabels gelê by hulle senior.