Op die volksakker – Ware kleure skemer deur?

Ons volk beleef voortdurende aanslae teen ons volksidentiteit, ons kultuur, ongelukkig ook ons waardes, leefwyse en volksvoortbestaan.  Nou ook onverbloemd teen ons geloof.

Verstaanbaar is daar uiteenlopende menings oor hoe ons aanslae en uitdagings behoort te hanteer, en op meeste lewensterreine moet ons mekaar daardie ruimte en vryheid van mening gun.

Met die onlangse uitspraak teen die Christelike godsdiens en hierdie week se berigte dat nóg veertien skole geteiken word deur daardie anti-Christelike aanslag, is aangekondig dat daar eerskomende Vrydag begin word met riglyne aan skole oor hantering van die hof se uitspraak (uit oorde van FEDSAS).

Wat is die regte manier om die uitspraak en die implikasie daarvan te hanteer?

Om dit korrek te beantwoord, moet ons die saak en die huidige grondwet reg verstaan.  Misverstand is hier ʼn saak van lewe en dood.

Die saak was gemik teen die Christendom en die Christen-opvoeding; Die huidige grondwet is berekend anti-Christelik, maar gevul met terme en woorde om liggelowiges te mislei. Enige ander begrip is vals en misleidend.

Die Christelike geloof is die énigste ware geloof wat daar is. Hierdie vertrekpunt is absoluut, dit is suiwer, en anders as wat die polities korrekte samelewing ons van beskuldig, is dit ʼn ontsaglike troos en genade – geensins onverdraagsaam nie.

Daaruit spruit dat slegs die één ware God aanbid en vereer mag word; dat Hy slegs aanbid en vereer mag word soos Sý Woord ons leer.

Hierin mag die staat die kerk slegs ondersteun en beskerm; versuim die owerheid daarin, staan sodanige owerheid (én die aanspreeklike amptenare) skuldig. (Hierdie feit moet sekerlik onder daardie mense se aandag gebring word, maar ons laat dit eers daar.)

Die Woord van God leer ons as Christene hoe ons jeens elke owerheid moet optree.

Die protes wat gelug is, is egter van die tafel gevee.

Nou is ons roeping duidelik: Ons moet God meer gehoorsaam wees.

Hoe dit prakties beslag gaan vind, moet elke gelowige oor besin, sekerlik oor bid en dan na sy of haar oortuiging handel.  Hoe die regering die hofbeslissing gaan opdwing, sal ook bepaal hoe ons in die toekoms gaan optree.

Terwyl tyd sal leer wat presies ons te doen staan, leer die Woord ons dat wie vashou aan God, in die krag van Christus deur die werking van die Heilige Gees, staande sal bly.

Wat wel duidelik is, is dat geen Christen wat die naam van Christus opreg bely, mag toelaat dat sinkretisime deel van sy of haar lewe en aanbidding word nie.

Om te redeneer dat skole nie ʼn integrale deel van ons kinders se opvoeding (deel van die “laat onderrig” van ons doopgelofte), INSLUITEND geloofsopvoeding, is nie, misken die werklikheid: Soos die Christelike geloof ons hele lewenswandel rig, vorm Christelike norme en waardes ten volle deel van die kind se vorming en opvoeding, primêr tuis, maar ook in die kerklike- en vakkundige opvoeding in ons gemeentes en in skole.

Enige riglyn vir godsdiens in skole wat nie die Christelike godsdiensonderrig voorop stel nie, sal die Christenskap van skole én leerlinge onkeerbaar skaad en neerkom op kapitulering aan die magte van die boosheid wat in ons land werksaam is.

Dit is vir die Christen dus ʼn hartseer dag, maar tog óók ʼn blye dag – ʼn dag om op te staan voor die wêreld en in woord én daad ons geloof te bely.