Op die volksakker – Positiewe volksprotes

Om te boikot is een manier van ʼn groep om hul misnoeë te kenne te gee.

Die regmatige afsku in Spur se rassistiese dubbele standaard het die koopkrag van ons mense – nie almal uit ons volksgeledere nie – baie duidelik gedemonstreer.

Dat Spur nou hul toevlug neem tot die FW de Klerk Stigting spreek ook boekdele.

In lig van die absoluut walglike gedrag uit restourant kombuise wat óók rugbaar geraak het, is boikotte van die Spur-groep se eetplekke gepas – bloot ter wille van gesondheid.

Maar ons moet veral twee lesse hieruit leer:  Ons koopkrag maak gewis impak, maar boikotte kan ook negatiewe terugslae tot gevolg hê.

Dat konsessiehouers kwansuis “swaar” kry, is loon vir hulle keuses, want hulle was nie mans genoeg om op te staan teen naakte rassisme nie.

Maar wanneer ons na die wyer ekonomie kyk, kan boikotte in die kort tot medium termyn ons eie volksgenote wat werksaam is by hoofstroom-besighede, óók skaad.

Daarom is ons langtermyn ideaal ons volksekonomie.

Maar intussen moet ons ons wend tot georganiseerde volksprotes.

Dit is tyd om die regime en hul sake-meelopers se wette en rassisme téén hulle te gebruik.

PAIA – toegang tot inligting.

Ons moet bloot aandring op inligting van twee stele inligting:

Die klanteprofiel van kettingwinkels, banke, versekeraars, elke onderneming;

Die demografiese inligting sluit in rasseklassifikasie – die regime se aandrang!

Tweedens, “sosiale” besteding van daardie maatskappye, in verhouding tot die voorgaande.

Natuurlik met daardie regime-klassifikasie wat so gekoester word op die SEB-sertifikate!

Aangesien maatskappye so graag oor hul “sosiale” spandering wil spog, moet ons hulle tot verantwoording daaroor roep.

Dieselfde persentasie van ons geld wat hulle ontvang, moet weer aan ons mense spandeer word.

In kort: Elke maatskappy wat ons klandisie geniet, moet bydra tot die welsy van ons volk!

En diegene wat óf weier om die inligting bekend te maak, óf nie ʼn eweredige bydrae maak tot ons armes in blanke plakkerskampe nie, of ons skole se uitbreidings nie, moet in die media en sosiale media ontbloot word as skynheilig, as manteldraaiers.

Selfs 5 of 10% van die sosiale spandering van elke hoofstroom kettingwinkel, bank en versekeraar kan in verantwoordelike hande berge versit.

En soos met meeste rasse voorkeur projekte wat tans deur hierdie maatskappye befonds word, moet ons aandring dat ons eie organisasies die projekte én fondse sal bestuur.

Dit sal van ons verg om instansies weer sterk te maak, ook dat ons sulke instansies onafhanklik en volkseie sal hou, los van die vakbond-seekat wat hand-aan-hand met die FW de Klerk Stigting werk vir behoud van die nuwe SA.