Onluste versprei steeds

Sogenaamde protesoptrede, wat in wese niks anders is as misdadige onluste nie, het ook op ander plekke in die land voorgekom.

Die inwoners van die Gomora plakkerskamp naby Hercules in Pretoria, het oorgegaan tot gewelddadige protes, en beweer dit gaan oor dienste.

Van der Hoffweg is vroeg Donderdagoggend versper met die nou reeds tradisionele brandende bande en klippe.  Vier voertuie is aan die brand gesteek, asook kragpale. Huiseienaars, wat totaal niks met enige dienslewering te doen het nie, se heinings is afgebreek en vensters is stukkend gegooi. Nog geen berig van enige arrestasie is ontvang nie.

In Noordwes is die pad tussen Carletonville en Welverdiend reeds sedert gister ook versper met klippe na betogings in daardie gebied. Die verkeerspolisie herlei die verkeer terwyl die polisie eenkant staan en “die situasie dophou”, in plaas daarvan om wet en orde te herstel.