Omstrede administrateur vir Vrystaatse munisipaliteit aangewys

‘n Omstrede administrateur, met beweerde finansiële geraamtes in sy kas, is nou in beheer van die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia)  aangewys.

Op ʼn spesiale raadsvergadering van die munisipaliteit is die administrateur wat op 2 Mei 2017 aangestel is, deur die ANC-beheerde raad vervang deur Mojalefa Matlole.  Matlole het skynbaar ‘n berugte reputasie en kan met verskeie skandale geassosieer word.

Matlole was voorheen die stadsbestuurder van die Mangaung-metro (Bloemfontein, Botshabelo, Van Stadensrus, Wepener, Thaba Nchu, Dewetsdorp) en is in 2005 van bedrog wat meer as R150 miljoen behels het, aangekla. Hy is later aangestel as administrateur van die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit in Noordwes waar hy ook in omstredenheid betrokke was. Sy maatskappy, Lefanosi Construction word by verskeie skandale betrek.

Mnr. Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse wetgewer, sê dit is ‘n absolute skande dat iemand met so ‘n berugte reputasie aangestel word om ‘n munisipaliteit wat reeds in totale chaos verkeer te bestuur. “Die ANC is besig met politieke speletjies, terwyl die inwoners geen dienste ontvang nie en die munisipaliteit in duie stort. Die vervanging van die administrateur is duidend op die totale onbevoegdheid van die ANC-regering en die binnegevegte wat in die ANC heers.

“Geen administrateur kan Mafube red terwyl die onbevoegde en magsbehepte ANC die munisipaliteit regeer nie. Die burgemeester van Mafube gryp na strooihalms deur die administrateur vir die krisisse in die munisipaliteit te blameer.

“Dit is duidelik dat hier ‘n magspel tussen sekere faksies binne die ANC aan die gang is. Die aanstelling van Matlole dui op verkeerde prioriteite aangesien die burgemeester en sy trawante slegs belangstel in die ANC se leierskapstryd en nie in die beste belang van Mafube optree nie”, sê mnr. Wessels.

Foto: Mnr. Wouter Wessels