Nuwe wêreldorde word herskep

Word die Nuwe Wêreldorde herskep om as Nuwe Nuwe Wêreldorde bekend te staan, of verval globalisering en kyk die wêreldleiers na ’n nuwe metode om die orde te herskep tot hulle eie voordeel?

Dit is die vraag wat tans op miljoene mense se lippe hang, want “globalisering” het misluk en hernude inisiatiewe is nodig om die orde te herskep.

Die wêreldpolitiek is rou en in ’n fase van wrywing, want die glorietyd wat voorgehou is met globalisering is verby, te midde van Angela Merkel se pogings om te red wat te red kon word.

Oor dekades het die optrede van Russiese en Amerikaanse leiers die aandag van die wêreld getrek, en Merkel het saam met die Sosialiste van Frankryk probeer om die kalklig te steel, en deels daarin geslaag om Barack Obama in die skaduwee te druk.

Maar toe verskyn Donald Trump op die horison met ’n slagspreuk om Amerika weer groot en sterk te maak, en kommandeer die rykes van sy land op om saam met hom ’n nuwe pad oop te kap vir Amerika.

Trump en Poetin skuur skouers, en albei is leiers van besondere aard – Trump die voortvarende en Poetin die strateeg wat telkens die wêreld om die bos lei.

Of die Koue Oorlog eers weer hervat moet word, om daarna die mensdom se sug na ’n ontspanne toekoms te bevredig met ’n Nuwe “Nuwe Wêreldorde” weet niemand, maar dat die glorietyd verby is in die arena van die wêreldmagte, is so seker as wat die stiervegters hulle passies moet ken om ’n aanstormende kommunistiese aanslag af te weer.

Die pas afgelope G20 beraad het getoon dat daar min vriendskap tussen die grotes heers – miskien is Sjina en Rusland se beskerming van Noord-Korea die grootste element om die Koue Oorlog lewendig te hou.

Aan die ander kant van die munt is Amerika en Brittanje, twee vriende wat mekaar onlangs herontdek het – Brittanje wat die VSA nodig het om deur Brexit te worstel na nuwe vryheid, en Amerika om te toon dat hy anti-Europese Unie is.

Duitsland se Angela Merkel kon nie daarin slaag om haar stempel af te druk en die Amerikaanse president hoek toe dryf nie, wat beteken dat die Franse president, Emmanuel Macron, se onvermoë om kragtig op te tree en sy Duitse bondgenoot te steun, helder na vore gekom het.

Fred Schoeman