Noord-Korea lanseer langafstand missiel

Noord-Korea het weer eens ’n missiel lanseer gedurende die afgelope week wat die regerings van Japan en Suid-Korea gedwing het om samesprekings te voer oor die bedreiging wat dit inhou vir die gebied.

Die missiel het sowat 370 kilometer van die kus in die Japanse seegebied beland en word as ’n daad van aggressie beskou deur die Japanse regering.

Die Japanse eerste minister, Shinzo Abe, het onmiddellik ’n spoedvergadering byeengeroep met die regering van Suid-Korea.

Intussen het die Pentagon bevestig dat die kommuniste ’n missiel vanaf die skiereiland lanseer het wat as ’n bedreiging vir vrede bestempel is.

Die missiel het in ’n gebied neergestort wat as Japan se ekonomiese skeepvaartroete beskou word, en Noord-Korea se missieltoetse kan lei tot ernstige konflik as dit een van die vragskepe sou tref.

Die Japanse premier sê die lansering van ’n langafstand missiel soos die wat die afgelope naweek in die seegebied beland het, hou ’n ernstige bedreiging vir wêreldvrede in aangesien dit ook in stryd is met die resolusies van die Verenigde Nasies.

Die Amerikaanse weermag het saam met die weermag van Suid-Korea ’n massiewe oefening uitgevoer in die see naby die skiereiland in reaksie op die kommunistiese missiel lansering.

Intussen het die Pentagon bevestig dat Noord-Korea moontlik reeds oor ’n langafstand missiel beskik wat die sentrale gebied van die Verenigde State kan bereik.