Na vier jaar is kankertoerusting steeds stukkend

Die Natalse departement van gesondheid probeer nou vure doodslaan nadat dit bekend geword het dat noodsaaklike toerusting vir die behandeling vir kanker, al vir vier jaar buite werking is.

Radioterapie toerusting by die Addington Hospitaal is hier ter sprake en die departement het nou aangekondig dat hy ‘n “ooreenkoms” met Varium, die verskaffers van die toerusting, aangegaan het vir die herstel daarvan.

Skynbaar word die herstel van die R150 miljoen hoogs tegnologiese toerusting bemoeilik nadat ongemagtigde tegnici daarmee gepeuter het in ‘n poging om dit teen ‘n goedkoper prys aan die gang te kry. Vrese bestaan dat die ongemagtigde tegnici egter soveel skade aangerig het, dat die toerusting in geheel nie meer herstelbaar is nie.

Skynbaar is gevalle geregistreer waar mense oorlede is omdat hulle nie die noodsaaklike behandeling kon ontvang nie, en moontlike siviele eise teen die departement word skynbaar oorweeg.

‘n Verdere probleem is dat selfs al sou die toerusting wel herstel word, Durban geen dokters meer het vir die behandeling van kankerpasiënte nie nadat die laaste twee onkoloë onlangs bedank het as gevolg van ellendige werksomstandighede.