N-Korea kernprogram ontwikkel verder

Te midde van vele dringende vergaderings van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies, en talle resolusies teen Noord-Korea se kernwapen program, en handelsanksies wat toegepas word, gaan die land ongestoord voort met die program.

Satellietfoto’s wat tussen September verlede jaar en Junie vanjaar geneem is, toon die toenemende vordering in kernnavorsing en toetse wat by ’n kernkrag aanleg in Noord-Korea plaasvind.

Die inligting is deur ’n aantal wetenskaplikes in kernkrag verlede week in Washington vrygestel.

Hulle het in ’n verslag gewaarsku dat die verwikkelinge ’n bedreiging inhou vir Amerika en al sy bondgenote.

Die besonderhede wat klaarblyklik bekom is toon duidelik dat die kernkrag aanleg van Pyongyang meer wapen-graad plutonium het as wat tot dusvêr vermoed is, wat as uiters kommerwekkend beskou word.

Die ondersoekers, bekend as die Noord 38 in Washington, wat verbind word aan die Johns Hopkins Universiteit sê die bevinding behels onder meer dat die kommunistiese Noord Korea se ontwikkelingsprogram vinniger kan uitbrei as wat algemeen aanvaar is.

Die leier van Noord-Korea, Kim Jong-Un, het hom tot hede nie gesteur aan dreigemente van Amerika nie, en sanksies wat teen hom ingestel is, word geïgnoreer terwyl die toetse om ’n langafstand ballistiese missiel te ontwikkel steeds voortgaan.

Foto – Kim Jong-Un